Hettie

du Plessis

As skrywer is Hettie du Plessis veral lief vir die skryf van kinderstories. 

OPERASIE GEBAKTE PERE, Hettie se heel eerste jeugboek vir 8 tot 12-jariges, is op Maandagaand 26 September 2016 in Kathu bekendgestel en het onmiddelik rekordverkope behaal. Dit is die eerste maal in die geskiedenis van Anna Emm (Pty) Ltd dat 'n jeugboek se eerste druk uitverkoop voordat die boek vrygestel is!
Tiano se pa is 'n beroemde sjef, en sy ma is 'n sepie-ster. Die paparazzi volg hulle oral! So toe Tiano se liefdadigheidsprojek, Operasie Gebakte Pere, skeefloop en 'n klomp mense pers kolle laat uitslaan... wéét hy sommer die storie gaan die voorblad haal. Tensy hy dit betyds kan keer...


OPERASIE GEBAKTE PERE is 'n lekkerlees, moderne jeugboek. Illustrasies deur E. Lanie.

Die boek is beskikbaar teen R135 elk.


Van kleins af het Hettie poppekas gehou by die huis met bandopnames van haar eie stories.

Haar storie "Tiaan in die sop" is in 2014 deur Anna Emm Kinderstories opgeneem op die CD, "Kom ons skryf 'n kinderstorie... CD1", waar dit deur die bekende akteur, Anrich Herbst voorgelees word. 

Nog 'n kinderstorie "Nthabi en die monster" is aanlyn by www.kliekclick.co.za gepubliseer.


"Die toebie en die selfie" is op 17 Junie 2015 in Anna Emm Kinderstories se Lekkerbekkie Nuusbrief gepubliseer. 


Van 15 Augustus 2015 tot Februarie 2017 is daar gereeld 'n kinderstorie deur Hettie du Plessis in Kathu Gazette se "Storieboom" gepubliseer.


Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging het "Die Huiswerk" opgeneem in hul bundel, "Bloemskryfsels 2015".


Wat volwasse fiksie betref, is haar kortverhaal, "911" in Mei 2015 as Vrouekeur se Wen Internetverhaal aangewys.


Twee van haar briewe is in Februarie 2016 in Veerpen Uitgewers se Valentynsbundel, "Tjoklitwoorde" opgeneem.


Veerpen Penmarathon: In hierdie bundel van Veerpen Uitgewers verskyn 'n storie wat saam met 16 ander skrywers op Skrikkeldag geskryf het!


Haar eerste kindergedig, "As Pa gholf speel"  sowel as haar kinderstorie, "Die Vadersdagkaartjie" is in Veerpen Uitgewers se Vadersdagbundel, Intermezzo, opgeneem. Beide het ook in die Mei / Junie 2017-uitgawe van Onneribome Tydskrif verskyn.


Twee van haar kortverhale, “Donderwolk in die Kalahari” en “Aantreklikheid” is opgeneem in Veerpen Uitgewers se kortverhaalbundel, “Uit Veerpen se Skatkis Volume 1”.


Onneribome Leefstyl Tydskrif se vorige redakteur, Nico Viljoen het in die eerste twee uitgawes van Onneribome "Magteloos" en "Die Pakkie" gepubliseer. Hettie het die tydskrif in Maart 2017 by hom oorgeneem en skryf steeds self kortverhale en kinderstories vir elkeen van die uitgawes.


"Die Pakkie" is ook opgeneem in Kilian & Malherbe Uitgewers se Kersbundel, "Kersfeeskeur - 'n Ware Wins".

2017 het goed afgeskop vir Hettie toe Anna Emm eers "Vrolike Fabels", toe "Renoster Jan" en daarna "Sprokies vir Klein Oortjies" op CD vrygestel het.

Op 29 Julie 2017 is SA Stories se eerste kortverhaalbundel, Nostalgie, gepubliseer met Hettie se rubriek, "Pause vir Ouma se melktert" daarin.

Hettie du Plessis is ‘n dromer wat huppel tussen skoenlappers, glybaan ry op reënboë en sweef op wolke.


Sy pen haar verbeeldingsvlugte neer en hoop dat dit, soos papiervliegtuigies, by elke leser sal gaan land en inspirasie bring.