Hettie

du Plessis

Admin area

Atom

02/24/2016

Die Liefde Bestaan Wel Nog

Vandeesweek het ek gesien dat die liefde wel nog bestaan.
Ek het ‘n rukkie gelede statistieke gelees dat ongeveer 50% van huwelike in egskeiding eindig, en slegs 2% van die res werklik gelukkig is. Dit kan ‘n mens mismoedig maak, maar om onderhoude met daardie gelukkige paartjies te doen, het my weer nuwe hoop gegee.
Die liefde bestaan wel nog! ‘n Mens kán meer as 40 jaar verlief bly!
Dit gebeur nie net op die televisie nie!

‘Ons Gaan Slaap Nooit Kwaad nie’

DSC_0027 klein.jpg

Oom Jan en tannie Retha-Jane Buys, wat ná 43 jaar se huwelikslewe steeds die versinnebeelding van verliefdheid is. 
 
Daar is ‘n liefdevolle atmosfeer in die televisiekamer van oom Jan en tannie Retha-Jane Buys se huis in Kuruman, waar hulle hul liefdesverhaal met my deel. 
Die twee het mekaar in Standard Bank ontmoet, waar albei werksaam was. Oom Jan onthou dit nog só goed. Dit was 5 November 1969. Hy het pas teruggekeer van die Weermag af. Daar was iets aan haar wat hom dadelik opgeval het — haar persoonlikheid, die besondere gawe wat sy binne haar het. “Ek het haar begin tjaaf en later met haar getrou,” deel hy. 
Waar hulle langs mekaar op die bank sit, kyk hulle met deernis na mekaar en word daar liefies aan mekaar se hande gevat. Tannie Retha-Jane onthou dat hy ‘n baie charming man met ‘n mooi bos hare was. Hulle lag saam oor die hare wat vandag nie meer daar is nie. “Hy was baie vriendelik en het spontaan grappe gemaak,” vertel sy. Die twee het groot maats geraak en dít het geleidelik oorgeskakel na liefde. 
Toe hulle in 1970 verloof geraak het, is hulle saam Kimberley toe om ‘n ring te gaan koop. Oom Jan het R150 saamgevat (petrolgeld ingesluit). Die ring wat hulle wou hê het egter R155 gekos, en oom Jan moes toe noodgedwonge R10 by sy broer leen om die ring te kan koop én nog petrolgeld vir die terugkomslag te hê. Die opgewondenheid was te groot om tot by die huis te wag en hy het die ring sommer langs die pad aan haar vinger gesteek!
Op 6 Maart 1971 is die paartjie in die Moffat sendingkerkie op Kuruman getroud. Reverend Thompson het hulle getrou en hierdie wyse woorde met hulle gedeel: “Never go to bed if you are not at ease with each other.” Die paartjie het dit hulle leuse gemaak en in al hierdie jare nog nooit kwaad gaan slaap nie. Hulle erken dat hulle al nagte om moes uitpraat aan kwessies, want aan die begin was albei maar baie hardkoppig. Met tyd het hulle egter geleer om mekaar beter te verstaan. “Mens stap maar ‘n pad saam,” die paartjie kyk hartlik vir mekaar en glimlag.
Die Buys-egpaar sê enige krisis kan oorkom word deur gebed. Hulle leef baie naby aan die Here en getuig dat God se hulp, raad en leiding enige situasie wat eers ‘n berg was soos ‘n molshoop laat lyk wanneer ‘n mens daarop terugkyk. 
Die paartjie is saam deur diep waters. Tannie Retha-Jane het jare gelede, toe hulle twee kinders nog op hoërskool was, borskanker oorwin. Sy kyk met innige waardering na hom en hy vertel hoe hy haar nooit as minder-vrou gesien het nie. “Sy was mos nog steeds sý!” Voeg hy by.
Élke huweliksherdenking is vir hulle kosbaar en hulle doen elke jaar iets romanties alleen saam. Hulle wag egter nie ‘n jaar om iets spesiaal saam te doen nie. “Ons gaan eet gereeld uit, of ek maak sommer ‘n lekker ete by die huis en dim die ligte so bietjie,” vertel tannie Retha-Jane. 
Oor Valentynsdag voel hulle dieselfde. Dit is goed dat daar ‘n dag vir liefde uitgesonder word, maar ‘n mens moet deur die jaar lief en goed wees vir mekaar. Oom Jan sal wel op Valentynsdag (byvoorbeeld) ‘n liefdesbriefie in sy kosblik kry en tannie Retha-Jane met sjokolade bederf word.    
Hul raad aan ander paartjies is dat ‘n mens iemand moet vind met dieselfde godsdiensoortuigings as jy, mekaar se kwaliteite en talente moet erken, mekaar ruimte moet gee om hulleself te kan uitleef, probleme kalm en rustig moet bespreek, nie kwaad te gaan slaap nie, altyd lief en goed te wees vir mekaar en te onthou dat geen probleem te groot is om te oorkom nie. Humor is ook baie belangrik, sê hulle. Om te lag is seker die beste medisyne!    

* * *

Uit hierdie twee mense en ander gelukkige paartjies se raad aan ander het ek tot die gevolgtrekking gekom dat om gelukkig getroud te wees, dit baie help as jy in 1971 getroud is. ;-)
As jy, soos ek, daardie tyd nog nie eens gebore was nie, lê die geheim daarin om te bid vir jou verhouding of huwelik, mekaar te ondersteun in alles wat hulle doen en om nooit kwaad te gaan slaap nie.
‘n Baie interessante les wat ek geleer het, juis uit hierdie onderhoude, was om mekaar ruimte te gun.
Met ‘n hoopvolle hart kan ek nou die toekoms aangryp en bly droom van ‘n sprokiesliefde.

Soos gepubliseer in Kathu Gazette se uitgawe van 15 Februarie 2014.

Admin - 20:01:47 | 1 comment

  1. Mariette

    07/15/2016

    Dit is so lekker om van sulke mooi ware liefdesverhale te lees! Dit leer ons jong getroudes om te waardeer wat ons het en help ons om te weet dat die liefde nie verroes deur die jare nie. Dit is baie duidelik dat hierdie huwelik so spesiaal is omdat beide man en vrou hope liefde aan mekaar gee en dat hul mekaar ondersteun. Baie dankie dat ons jonges by die “ervare ou getroudes” kan leer, dit is voorwaar ‘n inspererende huwelik van ware liefde.

Add comment

Fill out the form below to add your own comments