Hettie

du Plessis

Admin area

Atom

02/24/2016

Régtig Skoolgereed?

Met al die trane wat ons die afgelope tyd met die haasbekkies se eerste skooldag ervaar het, kon ek nie anders as om aan my eerste dag in die “groot skool” te dink nie.
“Jy gaan koshuis toe,” het my ouers my lank voor die tyd begin voorberei. Maar hoe moes ek weet wat ‘n koshuis is? My verwysingsraamwerk het bestaan uit sprokies! Natuurlik sien ek toe baie uit na daardie heerlike lekkergoedhuisie (soos in Hansie en Grietjie)…

koshuis.jpg

Groot was my skok toe ek sien hoe die koshuis regtig lyk – ‘n groot, wrede gebou met lang koue gange en liefdelose kamers.
Kort voor lank het ek en my beste maatjie op daardie stadium, ons eenderse beddegoed in die enigste kamer met twee beddens ingerig en in ons eenderse Minnie Muis-klere op die vloer gesit en inkleur in ons eenderse inkleurboeke.
Hierdie vrede was egter van korte duur, toe ‘n vreemde meisie met ‘n pienk en rooi rokkie daar instap en sê ons is nie die enigste graad 1’s nie en ons sal ‘n kamer met haar moet deel. (Hierdie vreemdeling het later ‘n baie goeie vriendin geword).
Dit laat my net wonder – hoeveel sesjariges is régtig gereed vir dit wat op hulle wag?

Soos gepubliseer in Kathu Gazette se uitgawe van 1 Februarie 2014.

Admin - 19:41:53 | Add a comment