Hettie

du Plessis

Admin area

Atom

02/24/2016

Pause vir Ouma se Melktert

Ek ontdek toe mos Ouma Hettie se koeksister- en melktertresepte in haar eie handskrif. ‘n Kosbare skat, al moes Oupa Adolf altyd ‘n maand lank aan een liefdesbrief ontsyfer.
KG bl 21 20131130 b.jpg
Die ontdekking het my ‘n bietjie laat dink… wie skryf nog iets met die hand, en wie bak nog hulle eie tradisionele lekkernye soos melktert of koeksisters?
Oukei ja, my ma, maar haar melktert word glad nie in die oond gebak nie. Sy sê altyd: “As jy die gaste op die randjie sien aankom en jy begin met die tert, is hy klaar wanneer hulle by die voordeur instap”.
In ‘n kitsbank, kitskoffie, “kts bdskp”-wêreld waar almal soek na kitsoplossings en melktert sommer by die naaste super-mark koop (al moet jy ook in die vervlakste ry gaan staan), is dit moeilik om te glo dat mense skaars dertig jaar gelede ‘n melktert in die oond gebak het.
Nie net het hulle die melktert (met ‘n lied in die hart) in die oond gebak nie, hulle het melk gebruik van koeie wat hulle self gemelk het en eiers wat hulle al singende teen sonop met ‘n mandjie gaan uithaal het.
KG bl 21 20131130 a.jpg
My ouma was ‘n bobaasbakster. Sy het weekliks melktert, koeksisters en anysbeskuit aan die plaaslike tuisnywerheid in Kuruman gelewer.
Die beskuit het sy nie met bakpoeier of kitsgis gebak nie, nee, sy het ‘n aartappelsuurdeegplantjie in die vensterbank vertroetel en daarmee gebak.
Haar koeksisters het sy Sondagaande begin bak en wanneer die skoolkar Maandagoggend voor die deur staan om my ma’le op te laai, was die koeksisters reeds verpak en gereed om saam dorp toe te gaan.
Resep in die hand, het ek so bietjie die “pause”-knoppie in hierdie gejaagde einde-van-die-jaar gedruk en alhoewel ek supermarkmelk en -eiers gebruik het, het ek ‘n melktert in die oond gebak en ‘n stukkie van my ouma se daaglikse sielsgeluk en vervulling ervaar.
KG bl 21 20131130 c.jpg

Soos gepubliseer in Kathu Gazette se uitgawe van 30 November 2013.

Admin - 18:37:27 | Add a comment